JOHANNES ANDREAS JACOBUS VAN DER MERWE

Bo: Koos, Nicolaas & Hannes van der Merwe
(Broers)

Bo: Van Links na Regs (Jongste na Oudste): Alida, Koos, Baby, Hannes, Helen, Nicolaas, Anne
'N STORIE – gegrond op inligting waarvan slegs ‘n deel geverifieer kon word, en soos verkry van verskeie mense / bronne –
OOR JOHANNES ANDREAS JACOBUS VAN DER MERWE, GENOEM Johannes & Hannes, DIE OUPA VAN ALIDA FRANCINA MAGRIETHA.
'n Doopseel en huweliksregister en sterftekennis en al súlke amptelike dokumente vertel mos hul eie storie oor elke mens, en ook iets oor sy / haar naasbestaandes: Ten opsigte van oupa Hannes sê die beskikbare dokumentasie hy is gebore te Calvinia. Of is hy? – was Calvinia met sy geboorte op 12 Maart 1913 nie net die kantoor vir geboorteregistrasie wat naaste aan sy ware geboorteplek – dorp óf plaas – was nie? ÓF Was dit omrede baba Hannes se pa Jacobus Frans sowel as oupa Nicolaas Johannes so ‘n sterk band met die plek Calvinia gehad het?
En toe word Johannes Andreas Jacobus op 4 Mei 1913 gedoop in Brandvlei se kerk – 'n afstand vêêêr van Calvinia af vir daardie tye. Maar seker tog was hierdie VAN DER MERWE-gesin lankal lidmate van die NG-gemeente Brandvlei ? Want sien, volgens inligting is die drie ouer VAN DER MERWE-kindertjies op Brandvlei gedoop – of was Helena Alberta Johanna so klein-klein in 1911 in haar moeder se arms op Kenhardt kerk toe omrede so baie van die naby-familie woonagtig was in Kenhardt-area ?
Calvinia en Brandvlei en Kenhardt se wêreld kon vir Hannes en sy ouboet Nicolaas Johannes en sy sussies en vir pa en ma seker nie vir altyd 'n goeie lewe bied nie en is hierdie gesin later na Louisvale se omgewing, naby Upington. Voor dit het die gesin egter nóg 'n sussie Huibrecht in 1915 asook ‘n jongste boetie Jacobus Frans (Koos) in 1916 bygekry. Slegs 18 maande oud was hiérdie boetie en skaars 4 jaar oud was Hannes toe sy vader Koos (?) op 2 Desember 1917 daar by Louisvale oorlede is, ín sy huis op sy plaas Nonieskraal. Is hy daar op Louisvale begrawe, soos sy ouer broer Dirk Gysbert Johannes, of in een van Upington se begraafplase?
ÓF Is hy dalk weggeneem na die ou ‘heimat‘ van hierdie VAN DER MERWE’s, Calvinia, om sag te rus in vrede? – in daardie wêreld waar plase met name soos Spitskop, Hottentotsrug en Spreeukraal met verloop van tyd die VAN DER MERWE’s se werk- en woonplekke was.
Byna 'n maand ná Hannes se negende verjaardag kry hierdie gesin 'n vierde sussie, Alida Magritha. Sy was natuurlik anders as Hannes se ander sussies, nl. met 'n ander vader as húlle. Ná Hannes se pa oorlede is, het moeder Huibrecht / Breggie haar hande óórvol gehad met die kroos. 'n Jóngman het hierdie skaars-in-die-dertigs weduwee met ses kinders raak gesien en haar werklik jammer gekry in haar moeilike omstandighede. Daar ontferm die jóngman – Adriaan Johannes HEYMAN – hom oor Breggie en trou toe in 192?? met haar. Later het die VAN DER MERWE / HEYMAN-gesin voltallig geword met die geboorte op 11 Oktober 1924 van klein Adriaan Johannes (genoem Attie), wat op 25 Januarie 1925 in Upington se kerk by die doopvont gebring is.
Die gesin het geleef uit die besproeiingsboerdery. Dit was geen maklike bestaan nie; pa Adriaan het pal hard gewerk en met sy geldsake was hy uiters omsigtig. En moeder Breggie het dikwels nie net haar hande vol gehad met haar kroos van agt nie, maar ook met buite-mense se kinders. Breggie was naamlik 'n geliefde en gerekende vroedvrou – amper ‘n dokter – in haar omgewing, op Louisvale sowel as later op Groblershoop. Hier het hulle gevestig op ‘n perseel van die Boegoeberg-damskema. Boegoeberg se naam is mos gegee a.g.v. die plaaate boegoeplante wat teen die heuwel gegroei het daar waar die dam in 1929 tot 1933 gebou is om vir mense bestaansmoontlikhede te skep.
Die Boegoebergdam is aan die suidekant van die Oranjerivier en ongeveer 35km stroomop van Groblershoop. In die dorp self is huidig die Oranjerivier Wynkelder waar die streek se wyne te kry is. Die besproeiingsboere spits hulle deesdae toe op wingerdbou vir sultanarosyne, vir wyn en vir vars druiwe vir die uitvoermark. Daarbenewens word lusern, katoen en mielies verbou. In die dorp is ook ‘n moderne abattoir. Op die veeplase om die dorp is die veld Karoo-agtig, en noord van die rivier begin die tipiese rooi Kalahari-sandduine.
Maar déstyds was die grondjies by die damskema net té klein om werklik vooruit te kon boer. Mettertyd het al die kinders nes verlaat om ‘n heenkome te soek, elkeen op sy eie manier. So bevind Hannes hom op 28-jarige ouderdom in diens van die Spoorweë te Vryburg en hy kies toe uit Christiana vir hom 'n 20-jaar-jonge lewensmaat, een van die twee dogters van Diederick J en Maria BOTHA. Synde midde in die tweede wêreldoorlog was dit op dáárdie stadium waarskynlik moeilike tye vir Hannes se familie. Sy eie susters Annie en Helen en Hilda was al getroud en kon dit dalk nie bybring om uit die Kaap te reis na die huwelik nie, of het hulle tog? Sussie Alida Magritha HEYMAN, wat toe by die onderwyskollege op Oudtshoorn studeer het, was vooraf nog onbewus van ‘n trouery. Waar was ouboet Nicolaas (getroud reeds, en met ‘n eerste kindjie Rina) en wáár die jongste broer Jacobus? Het pa ‘Daddy’ HEYMAN en moeder Breggie in die vreugde kon deel toe ds. HA de Wet op 9 Augustus 1941 die seën oor Johannes Andreas Jacobus VAN DER MERWE en Maria Susanna Elizabeth BOTHA uitgespreek het daar op Christiana ?
Geskryf deur: Pierre Verster
Hierdie is nie ‘n
profesionele blad met nagevorsde inligting nie. Ek is bloot 'n amateur wat my familie wil opspoor,
en in die proses my versamelde inligting met aner deel.